Grootrivier Akademie se ontstaan

grootrivier akademie school 5

Die mens kan sy eie pad beplan, maar die Here bepaal hoe die pad loop. 

In November 2024 kom vertel ‘n goeie vriendin my van die MOS. Ek het nog nie van te vore van MOS gehoor nie maar is toe dadelik baie opgewonde oor die moontlikheid om te kan betrokke raak vanuit Aliwal-Noord. MOS praat nie net Afrikaans nie maar ook my lewenstaal van potensiaal- en leierskapontwikkeling in kinders. Dit maak my ontsettend opgewonde en ek wou baie graag deel word van hierdie groep mense. 

Die afgelope paar jaar is daar ‘n tendens dat afrikaanse ouers hulle kinders stad toe stuur vir Hoërskool. Dit is geweldige verliese vir ons klein dorpe se besighede en ‘n bekommernis vir die voortbestaan van Afrikaans as medium van instruksie. Ook kom die stadskole en koshuise teen geweldige ekonomiese ingrypings en plaas dit ouers onder baie druk om te kan byhou met al die behoeftes van die leerders. Natuurlik is daar ook ‘n versteekte emosionele koste om jou kind op 13 jarige ouderdom uit die huis te stuur en soveel minder kontaktyd te kan saam hê. Die ouers se harte breek maar hulle voel daar is nie ander opsies om die kind uit die huis te kan laat skoolgaan nie. 

Ons het self met ons oudste seun, Janroux, voor hierdie besluit gestaan. Ons eerste keuse was nog altyd dat hy skoolgaan vanuit sy ouerhuis. Wat ‘n voorreg om die primêre invloed in ons twee seuns se lewens te kan wees. 

Die geleentheid wat MOS bied vir ‘n Kleinskool Konsessie pas ons toe soos ‘n handskoen. Hoe anders sal mens ‘n privaatskool kan begin met hoogstaande akademiese standaarde sonder om die bank te breek? Die MOS-Leerstelsel maak dit moontlik vir ons om met net vier leerders en een Leerbestuurder te kon begin in Januarie 2025. 

Die besluit om die eerste tree te neem was die moeilikste. Dis heeltemal onbekende terrein vir my en my man wat nie een ‘n kwalifikasie in die Onderwys het nie. Maar ons het ‘n baie defnitiewe roeping en opdrag ervaar van die Here om te begin. Janri, ons kontakpersoon by MOS, help met elke tree en wys ons die weg. My man gee die naam ‘Grootrivier’, die plaas area se naam waar hy grootgeword het. Later herinner my ma my aan Jesaja 35 wat sy ‘n paar jaar gelede vir ons as gesin ontvang het. Dit praat van die strome lewende water wat in die woestyn vloei en hoop bring. Ons dank die Here vir hierdie Woord. Die naam ‘Grootrivier Akademie’ word goedgekeur en ons ontvang die Artiekel 21 Registrasie in Januarie 2025. Die registrasienommer lees 2025/088080/08. Ek kyk twee keer. Die waarskynlikheid van hierdie nommer samestelling om slegs agts en nulle in te hê is amper onmoontlik. Ek soek die betekenis op van ‘agt’ in Bybelse terme. Dit simboliseer ‘n ‘nuwe begin of seisoen’. Beide 0 en 8 se vorms is oneindigend, net soos die Here se genade en voorsienning. Ons word intens bewus van die Here se ondersteuning en plan. 

Die vier leerders het binne die eerste week baie goed aangepas met die nuwe stelsel. Hulle almal werk hard en het pragtige verslae ontvang vir die eerste kwartaal se werk. Ons sien hoe die leerders groei in selfvertroue en verantwoordelikheid. Hulle het glimlagte op hul gesigte en as iemand van buite vra: ‘Hoe gaan dit met jou by die nuwe skool?’, dan antwoord my seun: ’Dit gaan baie goed dankie. Dis baie lekker.’  Die leerders floreer met die uitbreiding van hul vaardighede en gebruik van tegnologie. Hulle besef ook dat hierdie stelsel nie wegkruipplek het nie en vra dat jy altyd jou beste gee. Hulle raak trots op hulle werk en probeer om nie oranje borrels te kry nie. Dis regtig ‘n voorreg om te sien hoe hulle ontwikkel en groei. 

Elke dag bly ‘n stap in geloof. Ons groei saam met die pad wat ons en MOS stap. Ons is werklik opgewonde om deel te kan wees van ‘n groter droom en visie om Afrikaans te bevorder in Moedertaal onderrig en ook die leerders en ouers te kan help vorm tot hul elkeen se mooiste potensiaal. Ons is regtig dankbaar vir hierdie fantastiese geleentheid en baie opgewonde oor al die nuwe dinge wat ons as personeel, as ouers en as leerders gaan leer. Skielik het ons ‘n skoon, nuwe kunsdoek wat net wag vir nuwe verf!!

Verwante Artikels